VOORGEBOORTELIKE BEINVLOEDING

(My gesprek met die aanwesiges by die Vuurvliegiebyeenkoms van 24 Februarie 2011, Peperboom Restaurant, Groot-Brakrivier)

                               *                               *                               *

Goeie môre dames en here. Hierdie onderwerp van vanoggend lê baie na aan my hart.   Ek het baie jare se navorsing op die gebied gedoen  -  so ek is bly om vanoggend so ietsie daarvan met julle te deel.

Nou; wanneer begin ‘n mens se lewe op aarde?    Is dit die dag wanneer jy gebore word?

Tradisioneel was dit nog altyd die opvatting.  Freud en gedragswetenskap-likes van sy tyd het geglo dat ‘n kind jonger as 2 jaar nie volwasse genoeg is om gevoelens te kan hê, of om ervarings te beleef nie.   Daar is geglo dat traumatiese insidente wat in hierdie tydperk plaasvind nie eintlik ‘n noemens-waardige invloed op jou lewe kan hê nie, omdat jy in elk geval niks daarvan kan onthou nie.   Vandag nog is daar baie mense wat hierdie opvatting huldig en vir hulle is dit heeltemal ondenkbaar dat ‘n ongebore kind enigsins beïnvloed kan word.  

In die tweede helfte van die vorige eeu was daar onomstootlike fisiologiese bewyse dat die ongebore kind ‘n wakker, reagerende menslike wese is wat ‘n aktiewe emosionele lewe lei.

Daar is ook ontdek dat die menslike fetus kan sien, hoor, ervaar, proe en op ‘n primitiewe vlak selfs iets kan leer, en ook voel.   Die moeder se emosies het die grootste invloed op die ongebore kind se persoonlikheid.   Die pa speel net so ‘n belangrike rol omdat sy gevoelens teenoor sy vrou en ongebore kind die emosionele ondersteuning bied wat nodig is om ‘n suksesvolle swanger-skap te verseker.   Wat die fetus voel en ervaar, beïnvloed sy toekomstige selfbeeldontwikkeling.

Dit beteken dat ‘n mens se lewe nie by geboorte begin nie.   Die dag wanneer jy gebore word, is daar reeds 9 maande van jou lewe verby.

Die veertigjarige Carina het vir ‘n konsultasie na my toe gekom omdat sy oor-gewig was en glad nie in staat om haar gewig te beheer nie.   Sy was dikwels moeg, ongelukkig en ontevrede.  Haar respons op die woord “begeer” in ‘n woordassosiasietoets het haar probleem kernagtig saamgevat:  “Liefde!” het sy gesê en baie emosioneel gereageer.   “My hele lewe lank nog is dit al wat ek begeer!”

In ‘n latere kliniese hipnoterapiesessie het die gesprek met haar in die baar-moeder as volg verloop: “In jou ma se tweede maand van swangerskap besef sy dat sy swanger is, dat sy jou verwag.   Wat gebeur daar; hoe voel jou ma?”

“Sy is verpletter!” het Carina geantwoord, en droewig aan die huil gegaan.   Dit was duidelik dat noodsaaklike voorgeboortelike binding (bonding) met haar moeder nooit plaasgevind het nie.   Haar ma was ongetroud en glad nie gereed vir swangerskap nie.   Haar biologiese pa het van die begin af geen belangstelling getoon nie.

In daaropvolgende terapeutiese sessies is Carina gelei om te ervaar dat dit God is wat haar geskep het omdat Hy haar lief het en ‘n doel het met haar lewe.

Dan was daar die dertigjarige Herman, ‘n suksesvolle sakeman, maar  ‘n alkoholis en ‘n depressie-lyer.  Wanneer hy te veel drink, verander sy hele persoonlikheid.   Hy en sy ma daag toe saam vir sy eerste afspraak by my spreekkamer op.   Hy was onder die invloed van drank en het gehuil soos ‘n verwerpte klein seuntjie.   Hy het nie gehuil soos ‘n groot man nie, maar soos ‘n klein kindjie.   Sy ma het haar arms om hom gesit en hom styf vasgehou en getroos soos mens ‘n klein seuntjie troos.

Omdat hy ‘n alkoholis was en nooit heeltemal nugter nie, was dit moeilik aan die begin om by die kern van sy probleem uit te kom.   In ‘n onderhoud met sy ma het ek besef dat Herman se probleme begin het toe sy ma vier maande swanger was met hom.   Juis toe het sy verneem dat haar man breinkanker het.   Dit was vir haar ‘n geweldige skok en sy het in opstand teen die Here gekom.   Sy het gevra:  “Hoekom gee U vir my nog ‘n kind as U sy pa wegneem?”   Sy het haar liefde en ondersteuning aan die fetus onttrek.   Dit is duidelik dat Herman identiteitsprobleme het en ‘n intense behoefte aan liefde en geborgenheid. 

Vir sommige terapeute is dit dikwels baie frustrerend dat sommige kliënte  positief reageer op die behandeling vir sielkundige probleme en die indruk skep dat hulle genees is.    Wanneer die ou simptome weer kop uitsteek, vind daar soms ‘n herevaluasie plaas, hierdie keer deur ‘n mediese hipnoanalis wat op die geboorte-  en voorgeboorte-stadium van die lewe fokus, waartydens ekstreme emosionele ontlading plaasvind.   Hierna is die kliënt simptoomvry, omdat daar uiteindelik deurgedring is tot die saadjie van sy besondere probleem.

Kan julle die verwoestende effek begryp van traumas wat in die baarmoeder en tydens die geboorte plaasvind en die ingrypende gevolge wat dit op ‘n persoon se latere lewe kan he?   Patologiese probleme, soos angs- en depressietoestande, identiteitsprobleme en oormatige skuldgevoelens se aanvanklike ontstaan lê dikwels binne die baarmoeder.

Die baarmoeder is die fetus se eerste leefwereld.   Hoe hy dit beleef, sal ‘n invloed hê op die ontwikkeling van sy karakter of persoonlikheid.   Indien hy hierdie omgewing as vyandig ervaar, sal hy verwag dat die nuwe wêreld wat hy na die geboorte betree, ook vyandig en verwerpend gaan wees.   Die saadjies van onsekerheid, wantroue of verwerping wat reeds in die baarmoeder geplant kan wees, sal ‘n invloed op sy latere verhoudingslewe hê.

Hoe is dit moontlik?   Hoe kan situasies, voorvalle en insidente van my vroeg-ste kinderjare, of die omstandighede voor my geboorte, toe ek nog in my ma se baarmoeder was, ‘n invloed uitoefen op my lewe, vandag?   Dit is tog iets wat ek glad nie kan onthou nie. 

Om dit te verstaan moet ons begryp hoe die gees en gemoed van die mens (die mind) funksioneer.   Dit bestaan uit 2 dele, nl die bewuste en die onderbewuste.   In Engels praat ons van die conscious en die subconscious mind.   Die bewuste denke funksioneer wanneer ek enigiets met my sintuie waar-neem; wanneer ek sien, hoor, ruik, voel, proe, en ook as ek dink.   My onder-bewuste is ‘n stoorplek van inligting.   Dit is ‘n reuse biblioteek waar al die boeke van my lewe gebêre word.   Sommige boeke is so diep weggebere dat ek nie met die bewuste denke daarby kan uitkom nie.   Dit is dan iets wat ek vergeet het.

Nou, ek wil graag hê julle moet almal julle oë toemaak.   Moenie bekommerd wees nie.   Daar sal niks met jou gebeur nie.   Ek wil net graag jou volle aandag hê, en as mens jou oë toemaak, dan is daar niks wat jou aandag aflei nie.   Gebruik nou jou verbeelding, en stap in hierdie groot biblioteek van jou onderbewuste in.   Stap nou hier tussen die rakke in.   Jy sal al die boeke van jou lewe daar sien.    Jy sal sien, daar is die boek van voor jou geboorte, die tyd toe jy nog in jou ma se baarmoeder was.   Kyk, daar is ook die boek van jou geboorte.   Dan is daar die boeke van jou klein kinderjare,   die boeke van jou laerskooljare, die boeke van jou hoërskooljare, die boeke van jou jongmenslewe en jou getroude lewe, al die boeke, tot vandag toe.   Die meeste van hierdie boeke is netjies en op hulle plekke gebere.   Kan julle dit sien?   Maar hier en daar is ‘n boek wat nie reg en op sy plek gebêre is nie.  Sien julle die prentjie? Goed!  Maak nou maar weer die oë oop.

Nou, hoe word ‘n boek gestoor? Kom ons kyk hoe dit plaasvind?   Weet jy, die lewe is vol verrassings, en enigiets kan enige oomblik gebeur.   Wanneer so iets plaasvind, moet jou bewuste denke sy werk reg doen.   Sy taak is om die voorval, of gebeurtenis te kontroleer en te interpreteer. Met ander woorde,  jy moet begryp, of verstaan wat daar plaasvind.   In so ‘n geval word daar ‘n prentjie van die gebeurtenis op sy plek as ‘n boek, of ‘n lêer in die biblioteek van die onderbewuste gestoor.

Partykeer gebeur daar egter dinge wat so traumaties, of emosioneel is dat jou bewuste denke nie sy werk reg kan doen nie.  Jy mag moontlik ‘n tyding kry van ‘n ongeluk, of jy mag moontlik self daarin betrokke wees.   Ag daar is so baie dinge wat met ‘n mens kan gebeur.   Ek wil nie nou al die negatiewe dinge opnoem nie, maar wanneer daar so iets gebeur, is jou bewuste denke nie in staat om te kontroleer, en te interpreteer wat daar gebeur nie, en dan gaan daar ‘n prentjie van hierdie gebeurtenis sommer kortpad onderbewuste toe waar dit gestoor word as ‘n boek, maar nie reg gebêre word nie.   Jare later kan hierdie voorval lei tot onvanpaste gedrag, wanneer daar iets gebeur wat die ou herinneringe wat gestoor is, weer oproep.   Dan wonder almal hoekom jy nou so snaaks optree.  

Wanneer iemand nou worstel met onopgeloste emosionele probleme, sal dit tog nie help dat ons vir hom sê hy moet homself regruk nie.   Die probleem lê in die onderbewuste.   Die boeke is verkeerd gestoor in die biblioteek van die onderbewuste.   Om hierdie boeke te plaas op hulle regte plekke, moet ons kommunikeer met die onderbewuste.   Om dit te kan doen, maak ons gebruik van kliniese hipnose.   Kortliks wil ek nou net vertel wat dit is.   Dit is die vermoë wat ons het om in ons belewenis- of gedagtewereld te kan ingaan.   In hierdie toestand is ‘n mens nie bewusteloos nie, en jy kom ook nie onder die beheer van iemand anders nie.   Inteendeel, jou gees en denke is skerp en helder en in staat om duidelik te kan konsentreer, hoewel jou liggaam gewoonlik lekker ontspan.

Nou, Laat ons terug keer na die fetus in die baarmoeder.   Net na konsepsie, daardie tyd wanneer ‘n spermselletjie van my pa versmelt met ‘n eierselletjie van my ma, begin my brein om die boeke in die biblioteek van my onder-bewuste te stoor.   Daar is ‘n emosionele verbinding tussen my en my moeder, wat veroorsaak dat ek sensitief is vir my moeder se gedagtes en gevoelens.   Enigiets wat sy as bedreigend ervaar, is vir die ongebore kind ook traumaties.   Wanneer sy moeder se hartklop as gevolg van vrees versnel, verdubbel die fetus se hartklop ‘n breukdeel van ‘n sekonde daarna.

Ek ken ‘n violis wat 7 maande swanger was toe sy in ‘n orkes gespeel het.   Tydens die uitvoering kon sy aanvoel hoe die ongebore baba reageer op die vloei van die musiek.   Aan die begin, by die allegro-gedeelte het die baba normaalweg geskop, die musiek was nie te hard nie, ook nie te sag nie, en toe gaan die orkes oor in die adagio-gedeelte wat stadig en rustig is.   Op daardie stadium was die baba baie rustig en het byna glad nie beweeg nie.   By die derde gedeelte het die orkes opgewerk en harder begin beweeg na ‘n crescendo.   Dit was vinniger en dit was baie harder.   Soos die orkes opgewerk het na ’n klimaks toe, het die baba al meer harder en vinniger geskop.  Dit het later vir die ma gevoel of sy nie kan stilsit nie, soos die baba saam met die orkes begin skop het.

My eie dogter, wat oa ‘n konsertpianis is, het ‘n trio ingestudeer en ‘n paar konserte gehou terwyl sy swanger was.   Na Katherine se geboorte, toe sy omtrent 3 jaar oud was, toe speel hulle daardie trio oor Radio Classic, en toe Katherine dit hoor, herken sy die musiek en was sy baie opgewonde daaroor.

Musiek kan ‘n baie belangrike voorgeboortelike invloed hê op jou baba se latere lewe.   Ek raai graag verwagtende moeders aan om gereeld na Mozart te luister, want dit is gewoonlik vrolike en opgewekte musiek, maar tog strelend op die oor.

Die moeder se onvoorwaardelike liefde vir haar ongebore kind vorm ‘n skans wat hom beskut en in staat stel om die impak van gevare wat hom en sy moeder bedreig, te verminder.   Hierdie liefde open die emosionele kommuni-kasiekanaal tussen die fetus en sy moeder en sorg vir die onbelemmerde vloei van gerusstellende boodskappe van die moeder na haar kind.

Die grootste trauma wat ‘n fetus kan beleef, word veroorsaak deur verwerping wanneer hy ervaar dat sy moeder hom nie lief het nie en hom nie wil hê nie.   Dit blokkeer die emosionele kommunikasiekanaal en verhoed die totstand-koming van bonding  tussen moeder en baba.   Ek wil nou iets vir julle sê:.   Die grootste misdaad wat ‘n moeder teenoor haar ongebore kind kan pleeg, is aborsie. (Miskien sit hier vandag iemand wat ‘n aborsie gehad het.   Ek weet jy loop rond met ‘n klomp onverwerkte skuldgevoelens en ek wil nie graag hierdie skuldgevoelens vererger nie.   Ek nooi jou asseblief uit om met my te kom gesels, maar dit is nou weer ‘n onderwerp vir ‘n ander geleentheid.

Kom ek gee vir julle ‘n voorbeeld.   ‘n Kollega van my, ‘n mediese dokter het ‘n vrou ondersoek wat hom besoek het omdat sy die afgelope tyd nie lekker voel nie.  Hy het vermoed dat sy swanger is en ‘n sonar geneem en terwyl hy daarmee besig was, het die fetus lewenslustig rondgewoel en sy armpies geswaai.   Die dokter sê toe vir haar:   “Mevrou, jy is 3 maande swanger!”   Hy het onmiddellik gesien dat sy nie baie gelukkig was met sy diagnose nie en hy vra toe vir haar of sy die baba wil hê.  “Nee!” het sy geantwoord en die fetus het oombliklik alle beweging gestaak en ‘n lewelose houding ingeneem.   Hy het doodstil gelê. 

Vir die meeste mense is die baarmoeder ‘n geslote boek.   Herinnerings van voorgeboortelike traumas is so diep in die onderbewuste weggebêre dat dit ontoeganklik is vir die bewuste denke.   Tog kan angs wat deur die fetus ervaar word, die voorloper wees van angsversteurings en depressietoestande wanneer die persoon volwasse is.   Waarskynlik sal sy siektetoestand as endogene depressie geklassifiseer word en sal hy vir die res van sy lewe afhanklik wees van medikasie, tensy hy die regte sielkundige hulp kry.

Kom ek vertel vir julle die storie van Gustav, een van my kliënte.   Hy was ‘n depressielyer en ‘n werkslaaf.   In ‘n kliniese hipnoterapiesessie suggereer ek aan hom dat hy daardie nag ‘n droom sou hê wat lig sou werp op die oorsprong van sy probleme.   Ek het ook aan hom gesuggereer dat hy sou wakker word en die droom dadelik neerskryf   Toe hy my weer kom sien, het ek in hipnose vir hom gevra om die droom van daardie nag weer te ervaar; om te vertel wat gebeur en om te sê hoe hy voel.

Hy sê toe:   Ek loop in die hoofstraat;  ek kan aanvoel dat die duiwel daar is.   Ek is bang, verskriklik bang!   Meteens word ek teen die grond neergegooi, opgelig en gestamp; ek kan niks sien nie.   Dis donker en ek is alleen.   Ek is verskriklik bang, ek is ontsettend bang!   Ek huil en skree en roep na die Here.  (Sy hele liggaamstaal toon baie erge angs.)

En hy sê:   Ewe skielik is ek in ons huis se hoofslaapkamer.   Ek is weer alleen, daar is niemand nie.   Die slaapkamer se lig brand, maar die gang is pikdonker!   Ek verstaan dit nie, want die lig is aan; die kamer is helder verlig.   Een millimeter daarvandaan is dit donker, donker, donker.   Ek moet in die gang afloop, ek is verskriklik bang; ek weet die duiwel is daar en hy wag vir my.   Ewe skielik begin alles te draai, soos ‘n kolk (hy beduie).   Ek bid, ek roep Here, help my Here!   So in die kolk sien ek ‘n klein swart Bybeltjie wat my ma ongeveer 30 jaar gelede vir my gegee het.   Ek gryp na die Bybel, maar kry hom nie in die hande nie.   Al wat ek doen, is bid.   Dan word ek wakker. 

Ek vra toe vir Gustav om die beangste gevoel wat hy ervaar, vas te hou en te versterk, en om terug te beweeg in die tyd tot by die heel eerste keer in sy bestaan toe hy daardie selfde gevoel ervaar het.

Gustav sê toe vir my: My ma is 8 maande swanger met my, en ek is verskriklik bang.   My pa slaan my ma, ek is bang, en ek wil uitkom!   My pa is dronk, hy slaan my ma, hulle skree en raas.   Ek is bang, ek skop, ek wil uitkom!   My ma is baie moeg. Sy huil.   Hulle is in die kombuis en my pa klap my ma.   Sy val en hy skop haar!   My ouma is daar, sy help my ma op en vat haar kamer toe.

Is dit onlogies en onmoontlik?   Hoe kan die fetus waarneem wat buite sy moeder se liggaam plaasvind?   In sy boek, “The secret life of the Unborn Child” praat Dr Thomas Verny van “the eye-witness accounts of the soon-to-be-delivered infant.”   In hierdie tyd is die kind, tussen al die ander dinge ook intens bewus van sy moeder se gevoelens, en hierdie emosies kan dikwels uit sy geheue  na die oppervlak kom dekades later, spontaan, of in terapie.

Daarna het Gustav vertel hoe sy geboorte plaasgevind het:   Ek moet hier uitkom, want ek gaan dood!   Ek mag nie langer hier bly nie.   Ek probeer met my hande (hy beduie).   Ek moet net uitkom; ek trek my uit.   Ek moet net uitkom!

Ek vra toe vir hom:   “Gustav, hoe voel dit daarbinne – in die baarmoeder?”

Vasgedruk!  Baie styf!  Benoud, baie benoud, donker!  Ek sukkel (hy beduie, toon baie emosie).   Ek moet net uitkom.   Dan ewe skielik gaan ek net!   Ek is uit, en ek sien daglig.   Iemand vat my; iemand tel my op.   Dis my ouma.   My ma vat my; my ma huil!  Hulle weet nie of ek gaan leef nie; ek is baie klein en siek.   Daar’s ‘n dokter, of iets wat ook daar is.   Hy vat my.   Hy’t my in sy hande.   Hulle sê ek is siek.   Hulle vee my af.   Hulle gee my vir my ma.   Hulle se:  “Ag shame!”

Nou, kan julle sien wat hier gebeur het?   Hoe sy droom met sy beskrywing van sy ervarings in die baarmoeder en sy geboorte ooreenstem?  

Hy wat in die straat afloop en deur die duiwel teen die grond gegooi word. Dit stem ooreen met die angs wat hy ervaar as sy dronk pa sy ma wat swanger is, skop en slaan.

Die baarmoeder, ‘n plek van veiligheid stem ooreen met die huis se helder verligte hoofslaapkamer, maar die gang is donker.   Dit stem ooreen met die geboortekanaal waardeur hy moet gaan om gebore te word.

Kom ons som net so ‘n bietjie op:   Tydens bevrugting word ‘n saadjie geskep wat in die baarmoeder begin groei.   Dit vorm die menslike fetus wat deur middel van die naelstring biologies aan die moeder verbind is.   Daar is ook ‘n emosionele verbintenis:   die fetus is sensitief vir sy moeder se gedagtes en gevoelens.   Haar verhouding met ‘n liefdevolle en sensitiewe man verskaf ‘n deurlopende sisteem van emosionele ondersteuning tydens swangerskap.   Dankbaarheid teenoor die Skepper en blydskap oor die kind vorm die basis van die liefdesklimaat wat die fetus omring.   In hierdie atmosfeer van liefde vind binding met die moeder plaas en word die moontlikheid geskep vir optimale potensiaalontwikkeling, selfbeeldontplooiing en die verwesenliking van kreatiewe vermoëns.   Daarmee saam word daar ook vir die ongebore kind die geleentheid geskep om bewus te raak van God se teenwoordigheid nog voordat hy gebore is.

Maar nou weet ek hier sit vandag iemand wat voel dat hy of sy reeds voor sy geboorte al verwerp is.   Miskien voel jy dat jou ma of pa jou nie wou gehad het nie.; dat hulle jou nie lief gehad het toe jy verwek is nie.   Dalk het jy toe reeds onwelkom gevoel.   Vir jou wil ek sê dat jy lank voordat jy deur jou ouers verwek is alreeds in die gedagtes van God beplan is.   Toe jy verwek is, het God bepaal dat een spesifieke spermselletjie uit miljoene ander, een spesifieke eierselletjie uit duisende ander, op ‘n bepaalde tydstip sou binnedring om jou te skep.   Jy is ‘n unieke wese.   Daar is nie nog iemand soos jy nie.

God het jou geskep, nie jou ouers nie.   Hy het hulle net gebruik om jou in die wêreld te bring.   Jy is nie per ongeluk verwek en gebore nie.   Dit kan wees dat jou ouers nie jou geboorte beplan het nie, maar God het wel.   Hy het jou geskep omdat Hy ‘n doel met jou lewe het.   Hy het ‘n lewenstaak vir jou.   Dit is waarom jy hier is; waarom jy lewe.

Ek wil graag afsluit!

In Psalm 139 lees ons:   U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.   Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep.   Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.   Dit weet ek seker:  geen been was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.   U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. 

Boeke:  

Deur Trauma   Boek 4,  Samesteller Maretha Maartens,   Hoofstuk 2:  Daan Stulting  (Lapa Uitgewers, Pretoria)

The secret Life of the Unborn Child,  Thomas Verny with John Kelly, Time Warner Paperbacks.  (First Edition: Summit Books, 1982)