HIPNOSE EN SELFHIPNOSE

Hierdie artikel het in die Nuwe Dimensie (die kerkblad van die NG gemeente Moreletapark) verskyn in Maart en April 1999.   Ek het op daardie stadium geglo dat dit noodsaaklik was om so ‘n artikel te skryf, na aanleiding van ‘n reeks dienste wat gehandel het oor Die Koninkryk van die Bose.

                                                *           *           *

Tydens die Week van Gebed in Januarie het die begrippe hipnose en selfhipnose onder bespreking gekom.

Hierdie artikel poog om hierdie verskynsels beter toe te lig om skade aan die werk van Christen-sielkundiges, en dokters wat hierdie tegnieke gebruik, te voorkom, maar bowe-al om verdere skade in die Koninkryk van God, te verhoed.

Die Christen-sielkundige glo dat hy in diens van God staan, en dat hyself ‘n instrument in God se hande is.   In die lig hiervan wend hy ook alle tegnieke wat hy gebruik met verantwoordelikheid, en tot die eer van God aan.  Hipnose is een van hierdie tegnieke.

Vir ‘n baie lang tyd het mense geglo dat hipnose ‘n vreemde, misterieuse en onbekende verskynsel was.

Hierdie persepsie is verder versterk deur die optrede van verhoogkunstenaars wat vir die vermaak van toeskouers die gek geskeer het met mense.

Vandag weet ons dat hipnose glad nie misterieus en bonatuurlik is nie.   Ons weet ook dat elke mens dikwels in ‘n hipnotiese toestand ingaan, en dan is hy nie eens bewus daarvan nie, omdat dit vir hom soos ‘n natuurlike toestand voel.

En dit is presies wat dit is; ‘n normale en natuurlike toestand.   Jy het seker ookal in jou motor by die plek waar jy moes afgedraai het, verby gery;  diep ingedagte!

Die bewussyn van die mens (die “mind”) funksioneer soos ‘n baie kragtige rekenaar.   Dit bestaan hoofsaaklik uit twee dele, nl die bewuste en die onderbewuste.

Wanneer ek iets met my sintuie waarneem, soos om te sien, hoor, voel en ruik, doen ek dit deur middel van die bewuste … ook wanneer ek dink.   Ek is mos bewus daarvan as ek hierdie dinge doen.

Die onderbewuste is ‘n reuse-biblioteek waar inligting gestoor word.   Dit is die hardeskyf van ons rekenaar.

Van kleins af, ja alreeds van voor ons geboorte af, is ons brein besig om inligting te versamel.   Al ons ervarings, alles wat ons doen of beleef, of wat ookal met ons gebeur, saam met al die emosies wat daarby betrokke is, word in die onderbewuste gebêre.

Die meeste inligting is diep weggebêre, ontoeganklik vir die bewuste denke.   Dit is dan iets wat ek vergeet het.

Hipnose stel ons in staat om met ons onderbewuste te kommunikeer.  

Hipnose verskil van slaap in dié opsig dat jou gees, en denke skerp en helder is, en dat jou aandag by ‘n bepaalde saak gefokus is.   ‘n Mens het nie beheer oor jou drome nie, terwyl jy in hipnose volle beheer oor jou gedagtes het.

Die rol van die onderbewuste

Die onderbewuste het belangrike funksies.   Hy kan nie self dink en redeneer nie, maar hy is baie kragtig, en sal sorg dat sekere suggesties uitgevoer word, indien hy dit belangrik ag vir die oorlewing van die mens.   Daarom doen ‘n mens soms dinge wat jy nie wil doen nie, en verstaan jy ook nie hoekom jy dit doen nie.

Paulus was ook bewus van hierdie tweestryd.   Daarom sê hy in Rom 7: 18-19.   “Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie.   Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen, dit doen ek.”

 

Alles wat jy reeds geleer het, word geberg in jou onderbewuste.   So is jou bestuursvernuf ook geberg.   Dit beteken dat jou onderbewuste eintlik die bestuur van die motor oorneem, terwyl die bewuste denke wegdwaal.

Jou aandag kan so deur jou gedagtes in beslag geneem word, dat jy in die rigting van jou kantoor ry, terwyl jy eintlik winkel toe op pad is.   Of jy mag by jou bestemming aankom en wonder hoekom die pad so gou verby gegaan het.

Outomatiese aktiwiteite

Motorbestuur is maar een van ons outomatiese aktiwiteite.   Wanneer ‘n mens met so iets besig is, dwaal jou bewuste denke weg van jou onderbewuste, en is dit verstaanbaar dat jy in ‘n hipnotiese toestand (dagdromery) sal ingaan.

‘n Hipnotiese toestand is ‘n bewussynstoestand; net soos slaap en wakker wees.   Dagdromery is die ligste vorm van hipnose.

‘n Mens bly tydens hipnose altyd in volle beheer.   Jy kom nie onder iemand anders se invloed en beheer nie.   Niks kan teen jou wil gebeur nie, en jy sal ook niks doen wat teen jou beginsels is nie.   Dit is ‘n bewussynstoestand wat jy gewilliglik betree.

Meditasie en gebed

Christelike meditasie is ook ‘n vorm van selfhipnose.   Opregte gebed word moontlik gemaak deur die mens se vermoë om in ‘n hipnotiese toestand in te gaan.  (Lees meer daaroor in Communion with God van Mark en Patti Virkler),

Hipnose, is net soos wakkerwees en slaap, ‘n deel van menswees en ‘n gawe van God.   Op sigself is dit nie goed of sleg nie.

Dit stel jou in staat om in jou verbeeldingswêreld in te gaan, om meegevoel met iemand ander te hê, om pragtige musiek te kan geniet, om ‘n sonsondergang, of pragtige natuurtoneel te bewonder, en om met oorgawe, en volle aandag te luister wanneer die boodskap van die kansel af  verkondig word, of wanneer jy deur middel van sang, God loof en prys.

In hierdie toestand is die mens baie ontvanklik vir suggesties, en die persoon wat met hom praat, of iets aan hom suggereer, het daarom ‘n groot verantwoordelikheid.   Daarom is dit so belangrik dat ons sal wag hou oor die woorde wat by ons mond uitkom, veral met betrekking tot ons kinders.

Ontvanklikheid

‘n Kind is die meeste van die tyd in ‘n hipnotiese toestand, en is daarom baie beïnvloedbaar.   Ook die prediker op die kansel het ‘n groot verantwoordelikheid.   Die mens se behoefte aan geestelike oorlewing, en ‘n verhouding met God is sy belangrikste lewensprioriteit.   Sy onderbewuste aanvaar dus geredelik suggesties wat deur ‘n man van God tydens prediking aan hom voorgehou word.

Om seker te maak dat ‘n mens in nood nie blootgestel word aan ongewenste en afbrekende suggesties nie, is dit noodsaaklik dat hy sal hulp soek by ‘n raadgewer, berader, of hulpverlener wie se lewensopvatting nie van sy eie verskil nie.

Hipnose is dus nie in sigself goed of sleg nie; in die hande van die sielkundige is dit ‘n kragtige instrument wat aangewend kan word om die mens in nood te help.   Vir die Christen-sielkundige is dit ‘n hulpmiddel om die verlore skaap weer terug te bring by die Goeie Herder!